Vorster, Hendrik Jacobus

Ds. Vorster Hendrik

gebore

11 Mei 1928

OORLEDE

07 Jul. 2000

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

standplase

1953 Odendaalsrus

1955 Kroonstad-Noord

1960 Kerkenberg

1963 Org. Sekr. KJV., 0.V.S.

1965 Tafelberg, werkkring Kapelaan S.A. Polisie

14 Des. 1976 Riebeeck-Wes

30 Nov. 1984 Philadelphia

EMERITEER

1993

“Oom Hendrik” soos die jeug ds. Hennie Vorster geken het, sal veral onthou word as die eerste KJV-sekretaris (Sekretaris vir Jeugbediening) van die OVS, ʼn pos wat hy beklee het vanaf November 1962 tot November 1965. Hy het voorwaar baanbrekerswerk op hierdie terrein verrig. Hy het onder die aandag gekom by ʼn groot KJV-kongres in 1957 te Kroonstad-Noord waar daar 530 afgevaardigdes was. Hy is dadelik geëien as ʼn leraar wat die belange van die jeug op die hart dra.

Hy is gebore op 11 Mei 1928 te Potchefstroom, waar sy vader, Jan Albert Vorster, ʼn drukker was. Sy moeder, Helena Elizabeth Retief, was ʼn onderwyseres. Hy het na die laerskool van Potchefstroom-Suid gegaan (*1934-1941) en toe na die Potchefstroomse Gimnasium (*1942-1945); Hy het vir sy skool in die eerste krieketspan gespeel en deelgeneem aan atletiek, tennis, swem en fietsry. Hy het ook klavierlesse geneem en baie belanggestel in musiek. Reeds. as seun, het hy Sondagskoolkinders van die Mooirivier-gemeente op die orrel begelei.

Sy universiteitsopleiding het hy eers aan die PUK vir CHO te Potchefstroom (*1945-1948) deurloop waar hy die BA-graad in 1948 behaal het. Die bekende filosoof, prof Stoker, het veral ʼn groot indruk op hom maak. Daarna is hy na Stellenbosch (*1949-1952) waar hy aan die einde van 1952 gelegitimeer is.

Op 30 Desember 1952 is hy met Andor Higgo getroud en uit hierdie geseënde en gelukkige huwelik word vier kinders gebore. Hulle is: Jan (23/041954); Rika (16/05/1955, nou mev de Vries); James (of Choppie, 28/09/1957) en Elizna (26/ 06/1965, nou mev de Wet); Uit hulle huwelike is daar reeds. nege kleinkinders gebore, waarvan net een ʼn dogter is. Sy kinders praat met die grootste lof en waardering van hom. Saam met hom, het sy eggenote Andor, die Here met geesdrif, toewyding, blymoedigheid en standvastigheid gedien.

Die gemeentes waarin hy gedien het, is soos volg: Odendaalsrus, waar hy op 6 Junie 1953 georden en bevestig word. Daarna is hy na Kroonstad-Noord vanaf 17 September 1956. In hierdie tyd vind die groot KJV-Kongres van die OVS in Kroonstad-Noord plaas waarmee hy ten volle gemoeid was. Op 28 Januarie 1961 het hy na die gemeente Kerkenberg op Harrismith geskuif waar hy vanaf November 1962 sekretaris van die KJV (Jeugbediening) in die Vrystaat geword het. Op 6 Februarie 1965 het hy kapelaan met die rang van kolonel van die Suid Afrikaanse Polisie geword met standplaas Tafelberg in Kaapstad. Na twaalf jaar se diens in hierdie kapasiteit, word hy op 14 Desember 1976 te Riebeeck-Wes bevestig. Na agt jaar bevind hy hom in sy laaste gemeente, Philadelphia, vanaf 30 November 1984. Hier het hy vir agt jaar gebly tot en met sy aftrede op 6 Junie 1993.

Sy bediening van veertig jaar kan dusin drie periodes ingedeel word: twaalf jaar in die OVS; twaalfjaar as polisiekapelaan in Kaapstad en sestien jaar in gemeentes in Kaapland.

Hy het in die Sinodale Kommissie vir Kerkherstel en Evangelisasie gedien en was skriba van die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake in die Wes-Kaap. Hy het ook in die Sinodale Kommissie vir Anti-Kommunisme sowel as die Sinodale Kommissie vir Fondse gedien.

Hy het met dankbaarheid vertel dat hy die eerste Anti-Kommunisme-Jeugkonres namens die OVS-Jeug in Bloemfontein kon bywoon. In sy bediening was Woordverkondiging, pastoraat en gemeentebou vir hom baie belangrik. Hy was egter nie die spreekwoordelike predikant nie, maar iemand wat in sy aanslag baie tuis was by gewone en eenvoudige mense. Sy vrou getuig dat hy interessant, dinamies en sterk was. Hy was gewild in sy omgang, in baie opsigte ʼn ware platjie wat allerlei poetse op mense gebak het en eintlik legendaries in sy ou gemeentes geword het.

Hy was ʼn besonder begaafde prediker en het baie aandag aan sy preke gegee wat deurgaans Skrifgetrou, aktueel en in keurige taal gelewer was. Ook by die jeug het dit groot ingang gevind. By geleentheid het hy onder andere ʼn groot groep jongmense teen die Drakensberg uitgeneem as ʼn toets vir span bou. Hy was ʼn goeie teoloog en pastor wat lief was vir mense en bekend as ʼn harde werker. Daarby was hy ʼn goeie administrateur en organiseerder. Die basaars wat hy in gemeentes georganiseer het (onder andere in Kerkenberg) het bekendheid verwerf. In een geval is daar selfs ʼn vuurpyl gelanseer.

As polisiekapelaan, het hy die wêreld van die polisie man verstaan en hulle bygestaan en bemoedig in tuisbeveiliging sowel as in grensdiens. Spottenderwys is destyds. verwys na die “Vorster-bende” (dit wil sê eerste minister John Vorster, moderator van die Algemene Sinode Koot Vorster en kapelaan Hendrik Vorster); Hy was egter allermins ʼn politieke predikant, maar vir die taal en kultuur en die eer van sy kerk en volk, sou hy deur water en vuur gaan. Hy was net so tuis tussen die hoëlui as by die geringstes en verstotenes.

Hy het ook ʼn vaardige pen gehad en het artikels geskryf vir Huisgenoot en Die  Kerkbode, terwyl hy ook gevra was om dagstukke vir Lig en Lewe te skryf.

Na sy emeritaat op 65 jarige leeftyd, het hy en sy vrou hulle in Welgelegen gevestig. Maar hy het nie gaan stilsit nie. Hy was aktief in eiendomsontwikkeling, het waargeneem in gemeentes, gholf gespeel asook skaak. Hy het steeds. graag fiets gery en klavier en orrel gespeel.

In 1997 het hy nog gerapporteer dat sy gesondheid goed is. Hy is egter oorlede op 7 Julie 2000. In die afgelope twee jaar het hy en sy gesin reeds. geweet dat hy longkanker het en het hy intensiewe behandeling daarvoor gekry. Hy het egter al hoe meer kortasem geraak en dikwels in die hospitaal beland. Teen die einde was hy weer vir drie dae in die hospitaal, maar is toe huis toe waar sy eggenote hom versorg en bygestaan het. Hy het daarna uitgesien om na sy Here te gaan. Hy het nooit moed opgegee nie, maar getrou gebly aan sy geloof tot die einde toe, toe hy die “oorwinnaarskroon” behaal het. Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 04/07/1997 ingevul het, en ʼn gesprek met sy eggenote, Andor, asook verskeie stukke wat sy beskikbaar gestel het. (Jaarboek 2001).