gebore
26 Aug. 1883
OORLEDE
22 Jan. 1972
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1913
ORDEN
1914
standplase
1914 Worcester (Hpr.)
1915 Port Elizabeth
1924 Koringberg
1928 Woodstock
1931 Burgersdorp
1941 Sondagskoolsekretaris
EMERITEER
1954
Ds. Antonie Christoffel Stegmann is op 26 Augustus 1883 in die distrik Bedford gebore en op 22 Januarie 1972 in ‘n tehuis vir bejaardes in Pretoria Oorlede. Hy lê die skooleindeksamen op Wellington af en bekwaam hom toe as onderwyser. Na enkele jare in die onderwys, gaan hy in 1904 vir verdere studie na Stellenbosch, waar hy as uitmuntende rugby vleuel roem verwerf. In 1906 vergesel hy dan ook wyle Paul Roos se Springbokspan na Brittanje. Nadat hy sy graad verwerf het, gee hy weer onderwys en intussen berei hy hom vir die opleiding as predikant voor. In 1913 toegelaat, arbei hy met seën en vrug in Worcester (hulpprediker, 1914); Port Elizabeth (1915); Koringberg (1924); Woodstock (1928) en Burgersdorp (1931); In Junie 1941 neem hy die taak van Sondagskool sekretaris op – ‘n werk wat hy met besondere bekwaamheid tot sy uittrede in 1954 volbring. As gevolg van sy kontak met hulle deur middel van Die Kindervriend en Môrelig was „Oom Anton” veral onder die duisende kinders van ons Kerk ‘n beminde figuur. Hy was ‘n waardige, liefdevolle en toegewyde man van God en ‘n kinderlike geloofsvertroue het sy lewe gekenmerk. As ‘n voorbeeld van sy bedagsaamheid noem ons dit dat hy voor sy heengaan sy seun gevra het om ‘n kiekie en ‘n kort lewenskets van hom vir die 1973-Kerkjaarboek te stuur! (Jaarboek 1973/467).