GEBORE
13 Julie 1929
ORLEDE
9 Mei 2022
UNIVERSITEIT
BA MA DLitt et Phil (Hugenote Universiteit-Kollege, Unisa, Sendinginstituut)
gelegitimeer
1953
ORDEN
1954
standplase
1954 Bonnievale
1961 Wagenmakersvallei
1968 Skakelbeampte NGSK in SA
1972 Demissie verdere studie
1975 Beaufort-Wes-Oos
1982 Worcester (Hoof Minnie Hofmeyr-Kollege)
EMERITEER
13 Julie 1994
DR FAAN KOTZE (BA, MA, DLitt et Phil) 13 Julie 1929 9 Mei 2022
Stephanus Francois Kotze is op 13 Julie 1929 gebore, die sesde van sewe kinders van Charl Kotze en Sara Debora du Toit. Hy word groot op die familieplaas Groot Brakfontein in die omgewing van Garies in Namakwa-land. Sy ouers was twee lieflike mense wat na aan die Here en die natuur geleef het. Die vroeë dertigerjare was ‘n moeilike tyd met groot droogte en depressie. Faan geniet die plaaslewe en word ‘n leser wat tydskrifte soos Landbouweekblad verslind. Aan die begin van 1936 begin Faan met sy skoolopleiding by die plaasskool op Groot Brakfontein in die distrik Garies. In 1940 word hy leerling in die groot skool op Garies waar hy met standerd drie begin en aan die einde van 1947 matrikuleer. In sy matriekjaar ontvang hy die: roeping om sendeling te word, met Jesaja 6:8 as anker teksgedeelte. Hy skryf later: “Ek het soos Jesaja geantwoord: Here, hier is ek, stuur my”.
Daar was nie geld om te studeer nie en hy kry werk in die hoofkantoor van die Spoorweë in Johannesburg. Sondae het hy die eredienste in die NG Gemeente Braamfontein bygewoon, waar een van die leraars ds. CB Brink die jong Faan gehelp het om ‘n studielening by die Transvaalse Kerk te bekom om te gaan studeer op Wellington. In 1949 begin Faan studeer aan die Hugenote Universiteit-Kollege op Wellington waar hy die BA (Admissie) behaal deur Unisa. In 1951 word hy student aan die Sendinginstituut, digby die geskiedkundige Samuel en Clairvaux, die voormalige woning van wyle dr Andrew Murray. Op sportgebied blink hy in die tyd uit in hokkie. Aan die einde van 1953 word Faan saam met agttien ander studente in die NG Moederkerk Wellington gelegitimeer as sendeling van die NG Kerk in SA. In die tyd ontmoet Faan vir Lenie Roos, wie se vader skoolhoof was op Wellington. Hulle trou op 6 April 1954 en uit die huwelik is vier kinders gebore: Karel Gideon Kotze (1955), Hendrik Roos Kotze (1957), Lydia Kotze (1961) en Stephanus Francois Kotze (1965).
Prop SF Kotze ontvang ‘n beroep na die NG Sendinggemeente Bonnievale, waar hy op 13 Februarie 1954 met handoplegging ontvang en bevestig word. ‘n Groot deel van die gemeente se lidmate werk op wynplase langs die Breërivier. Hy vestig ‘n besondere verhouding met NG lidmate in die boerderygemeenskap van Bonnievale, waar daar tydens sy sewejarige diens-tyd ‘n sending kerkgebou opgerig word. Op 5 Augustus 1961 word hy leraar van die NG Sendingkerk Wamakers-vallei op Wellington, waar hy diep spore trap en ook bevoorreg is om die CSV se normaalklas vir kringleiers aan te bied by Wellington Onderwyskollege. Hy beleef twee historiese geleenthede op Wellington, die hartseer oomblik met die sluiting op 29 November 1962 van die Sendinginstituut en die vreugde toe die kerkgebou van die NG Sending-kerk op 3 Desember 1966 verklaar is as ‘n historiese gedenkwaardigheid.
In 1968 word ds. Faan Kotze sekretaris van Diens van Barmhartigheid van die. NG Sendingkerk, ‘n pos waaraan hy waarde toevoeg en diep spore trap. Na die aardbewing. op 29 September 1969 in die Boland, is hy betrokke om die Steinthal-Kinderhuis op Tulbagh wat erg beskadig is, weer te herstel. Aan die einde van 1971 ontvang hy demissie vir verdere studie en in die tyd vra die Ring van Worcester (Moederkerk) ds. Faan om deeltyds behulpsaam te wees in die NG Kerk in Afrika. Hy preek met behulp van tolke en dit is jare waarin hy die Here se tasbare nabyheid ervaar.
Ds. SF Kotze word in 1975 beroep as leraar van die NG Sendinggemeente Beaufort-Wes-Oos, waar hy op die walle van die Gamkarivier ‘n positiewe geestelike bydrae lewer tot eer van die Here. Hy verwerf sy doktorsgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit, met die proefskrif: “‘n Rolanalise in ‘n marginale situasie: Die predikant in die NG Sendingkerk in SA.” Dr Faan skryf in sy herinneringe: “My sewe jaar in die Groot-Karoo was vir my ‘n geseënde tyd. Dit was ‘n wyd uitgestrekte gemeente, maar die grondslag is goed gelê deur my vriend ds. Nathan van Zyl. Langs die kerkgebou was die hoër skool en die koshuis, die woon- en skoolgaan plek van talle kinders oor ‘n wye gebied in die Karoo. Ek het groot getalle katkisante in die Woord onderrig en dit was vir my ‘n voorreg om hulle geestelik te help vorm. My vrou Lenie het vrugbare werk gedoen onder die susters en kinders van die gemeente. Met haar sterk sendingroeping het sy my wonderlik bygestaan deur my hele bediening. In 1980 is sy verkies tot president van die CSB van die NG Sendingkerk.”
Op 12 Desember 1981 word dr Faan Kotze aangestel as rektor van die Minnie Hofmeyr-kollege op Worcester, die opleidingsentrum van maatskaplike werkers van die NG Sendingkerk. Dr Faan skryf oor die groot uitdaging: “Om jongmense te help vorm, beteken ook om jou gebied van invloed te verruim, aangesien hulle in die samelewing uitgaan om weer op hulle beurt diens te lewer. Die opleiding het oor vier jaar gestrek en die afgestudeerde studente is geregistreer by die Raad vir Maatskaplike werk. Ek het dikwels briewe van waardering ontvang vir die werk van ons oudstudente. Sommige het ook geëmigreer en doen steeds uitstekende werk in die buiteland.” Dr Faan was oor jare heen ‘n vaderfiguur en mentor vir sy studente.
Dr Faan Kotze aanvaar op 13 Julie 1994 sy emeritaat en bly betrokke by die werk van die Here en speel ‘n groot rol by die Arbeidsbediening op Worcester. .Hy het altyd die spreek-woord aangehaal: “Oudag is nie klaar-dag nie”! Weens die siekte van Lenie verhuis hulle na ‘n woonstel in Huis Andries Hamman op die dorp waar op 10 Februarie 2002 weens beroerte, sterf. Aan die begin van 2015 het gesondheid begin verswak, maar hy steeds voortgegaan om in die besonder sy kinders en kleinkinders met liefde en deernis aan te raak.
Alhoewel sy gesondheid verswak het, sit hy skouer aan die wiel en beskou dit as sy belangrikste werk om voorbidding te doen vir sy kinders, klein. kinders en die koninkryk van God. Hy bly in sy woonstel waar hy op 9 Mei 2022 die vreugde van die hier namaals beleef. ‘n Gedenkdiens word op 21 Mei 2022 deur ds. Jan Ungerer in die NG Moedergemeente Worcester gehou, waar hierdie boorling en seun van Garies gehuldig word as ‘n man met ‘n skerp brein en besondere geheue, wat tot die einde toe sendeling gebly en mense met liefde en sorgsaamheid aangeraak het. — Dr Gerdrie van der Merwe VDA (Bl. 378)