Hugo, Carel Johannes

 

gebore

19 Jan. 1953

OORLEDE

23 Okt. 1910

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1948

ORDEN

1949

standplase

 1949 Pofadder

1953 Windhoek

1955 Windhoek-Wes

1959 Calvinia

1964 Moorreesburg

1975 Paarl-Vallei

EMERITEER

1988

Prof Callie Hugo (BA Hons, BTh, MTh, DTh) 19 Januarie 1953 – 23 Oktober 1910

Carel Johannes Hugo is op 19 Januarie 1953 op die plaas Dankbaarheid tussen Stellenbosch en Somerset-Wes gebore. Hy was die derde Carel Johannes en sy seun het ook die naam gekry. Callie se oupa Carel Hugo het op die plaas Lewerfontein naby Touwsrivier geboer. Callie se ouers was ds Callie en Elna Hugo, NG predikantspaar op ‘Pofadder, Windhoek, Calvinia, Moorreesburg en Paarl-Vallei, waar hy in 1988 sy emeritaat aanvaar het. Uit hulle huwelik is gebore: Callie, Johann, Marieke en Ilza.

Callie het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Calvinia begin en aan die Hoërskool Dirkie Uys op Moorreesburg gematrikuleer. Hy het uitgeblink in rugby en tennis en was ‘n langafstand-atleet. Hy het vroeg reeds die roeping ontvang om predikant te word en het in 1971 na Stellenbosch vertrek waar hy die graad BA ontvang het. Hy was ‘n inwoner van Huis Marais, het in die bestuur van die CSV gedien en die Stranddiens span op Struisbaai gelei. In 1973 het hy ‘n student aan die Fakulteit Teologie geword, waar hy die BTh-graad en Lisensiaat in Teologie ontvang het. Hy is op 17 November 1977 gelegitimeer saam met klasmaats soos Hans Steyn, Kosie van der Merwe en Hennie van Deventer.

Callie is op 25 Julie 1975 met handoplegging as medeleraar in die NG Gemeente Robertson-Oos bevestig, en sy pa het die rede gelewer. In 1982 het ds Callie ‘n beroep na die NG Gemeente Modderrivier-Ritchie aanvaar, ‘n gemeente op die grens tussen die Vrystaat en Noord-Kaapland. Hier het hy die ongelooflike vloed van 1988 beleef, toe die Rietrivier sy walle oorstroom en dwarsdeur die kerkgebou en pastorie gestroom het – so hoog soos die gordynkappe. In die Sinode van Noord-Kaapland was hy intens betrokke by jeugwerk en het hy ook sy Sending roeping uitgeleef in die NG Sendingkerk op Ritchie.

In 1992 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Parkhurst in Johannesburg aanvaar, waar hy tot in 1995 gewerk het. Hy het daarna met behoud van statusdie bediening verlaat en steeds in verskeie gemeentes gepreek. In die Goudstad was hy ook betrokke by MES-Aksie, waar hy in die direksie gedien het.

Intussen het hy steeds verder gestudeer en sy Honneurs- en Meestersgraad in Sielkunde aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf. Callie is as professionele sielkundige geregistreer. Hy was vanaf 1999 tot 2002 ‘n dosent in Sielkunde aan die Universiteit van die Noorde. Van 2002 tot met sy skielike dood op 23 Oktober 2010 was hy verbonde aan die Departement Praktiese Teologie aan Unisa. “Vanweë sy uitgebreide kundigheid van beide die Sielkunde en Praktiese Teologie kon Callie by Unisa verskeie nuwe kwalifikasies en kort kursusse ontwikkel en aanbied, wat hierdie dissiplines kombineer en wat studente van oor die wêreld gelok het.” In die herfs van 2010 het hy ‘n professoraat ontvang, maar hy is oorlede voordat hy sy intreerede kon lewer.

Callie is in 1977 met Ena Louw getroud, wat hy op Stellenbosch leer ken het. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Ronelle, Hanneli en Carel. Callie en Ena is in 1995 geskei en hy is nooit weer getroud nie.

Marieke Willers skryf oor haar broer: ‘”Een van Callie se uitstaande kenmerke was sy passie vir mense, sy humor, nederigheid, liefde vir boeke, die natuur, sport, sy onversadigbare honger om te leer en sy omgee-liefde vir sy kinders en familie. Hy was dwarsdeur sy lewe gewillig om te help waar mense in nood is, as berader, omgee-leraar, kollega, dosent, vriend, pa, seun en broer. Tyd en plek het nie vir hom saak gemaak nie.”

Prof Callie Hugo is op 23 Oktober 2010 in die ouderdom van 57 in sy woonstel in Pretoria oorlede, nadat hy die middag nog ‘n strawwe tenniswedstryd gespeel het. “Dit was baie onverwags, selfs voortydig,” het iemand gesê. “Sy werk was nog nie klaar nie, maar die herinneringe aan hom bly voortleef!” – Dr Gerdrie van der Merwe.