Berry, Johannes Strohmenger

gebore

25 September 1926

oorlede

25 Mei 2016

universiteit

 UOVSBA, MA (Sosiologie),US MA (Bybelkunde)

gelegitimeer

1951

orden

1952

standplase

1952 Gatooma

1957 Worcester

1960 Bultfontein-Oos

1966 Barkly-Oos

emeriteer

27 April 1991

DS JAN BERRY (BA, MA (Sosiologie),MA (Bybelkunde) 25 September 1926 — 25 Mei 2016

Johannes Strohmenger Berry is op 25 September 1926 gebore in Bloemfontein. Sy ouers was Adrian Roland Berry en Anna Maria Susanna Strohmenger, twee diep gelowige mense wat die Here in die onderwys dien. Hulle was ‘n leeftyd lank onderwysers aan die Hoërskool Wepener, destyds ‘n vooruitstrewende dorp in die Suidoos Vrystaat op die grens van Lesotho. Die gesin was kerklik meelewend en het met oorgawe aan die kerklike bedrywighede meegedoen en was altyd bevriend met die onderskeie leraars. Die jong Jan het sy liefde vir die NG Kerk met moeders melk ingekry en die NG Gemeente Wepener se werksaamhede het Jan aangewakker om predikant te word. In sy ouerhuis het hy ‘n deurleefde liefde en toewyding aan die Here leer ken wat meer as woorde geword het en tot dade oorgegaan het as ‘n getuienis na buite.

Jan begin sy skoolloopbaan in 1932 aan die Laerskool Wepener en van 1939 word hy leerling aan die Hoërskool Wepener waar hy in 1943 matrikuleer met ‘n onderskeiding in Wetenskap. Hy blink uit in rugby en is twee jaar lank kaptein van die skool se eerste rugbyspan op Wepener. Jan le belydenis af onder die geliefde ds H Martens, wat die jong Jan gehelp het om tot die besluit te kom om voltyds vir die Here te gaan werk as predikant.

Jan begin in 1944 met BA (Admissie) aan die destydse Universiteitskollege van die Vrystaat op die Bult (later die UOVS), waar hy sterk leiding neem op vele gebiede. Jan dien op die studenteraad, is voorsitter van die NG Kerkvereniging van die NG Gemeente Bloemfontein-Wes en speel ‘n groot rol in die NG Admissiebond, die toekomstige leraars wat hulle voorstudie in Bloemfontein begin. Hy behaal sy graad met lof en word in 1948 student aan die Teologiese Seminarium van die NG Kerk op die walle van die Eersterivier op Stellenbosch. Hier is hy voorsitter van Konfes, ‘n vereniging wat die belydenisskrifte bestudeer. Op 6 November 1951 word hy as proponent gelegitimeer en ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Gatooma in Suid Rhodesië, waar hy op 5 Julie 1952 met handoplegging bevestig word. Hy bly student en verwerf in 1953 die MA graad in Sosiologie aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein.

Na enkele maande word sy eensaamheid in die vreemde verlig toe hy met sy verloofde, Johanna Dorothea Hurter, trou, ‘n onderwyseres en liefde uit sy studentetyd in Matieland. Sy is ‘n suster van die bekende ds Jan Hurter, bekende leraar in die NG Kerk, en was ‘n wiskundeonderwyseres aan die Bloemhof Meisieskool op Stellenbosch. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Engela, getroud met ‘n boer in Ventersburg, Roland en Pieter is albei geneeshere, terwyl die jongste, Jan, ‘n prokureur in Bloemfontein is.

Ds Jan en Hannie Berry beleef vyf opwindende jare in die NG Gemeente Gatooma in Rhodesië; daarna aanvaar hy ‘n beroep na die NG Gemeente Worcester in die Boland, waar hy op 2 Februarie 1957 ontvang en bevestig word. In sy dienstyd word ‘n pastorie gebou en goeie tye beleef in die historiese dorp. Sy pad loop na die NG Gemeente Bultfontein Oos, waar hy op 20 Augustus 1960 in die hart van die Vrystaat bevestig word. In sy dienstyd word ‘n kerksaal gebou en is hy betrokke in die oprigting van ‘n NG Sendingkerk op die dorp. Die naweek van 1617 April 1966 word ds JS Berry bevestig as leraar van die NG Gemeente Barkly-Oos, waar hy met gemak die mooi mense van die bergwêreld bedien. Na ‘n kort dienstyd word hy op 30 Januarie 1970 leraar van die NG Gemeente Senekal De Rust op die groot plattelandse dorp Senekal.

Op 13 Januarie 1974 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Bloemfontein (Tweetoringkerk) in die Vrystaatse hoofstad, as opvolger van die bekende ds JH (Hans) van Loggerenberg. Hier werk hy in liefde en harmonie saam met sy twee kollegas, dr EPJ (Evert) Kleynhans en ds JJ Fourie. Hy studeer ook verder en behaal in 1976 die MA-graad in Bybelkunde aan die UOVS in Bloemfontein. Op 20 April 1979 word ds Jan bevestig as leraar van die NG Gemeente Ladybrand, ‘n vooruitstrewende dorp op die grens van Lesotho. Na ‘n geseënde dienstyd word hy op 3 Augustus 1984 bevestig as leraar van die NG Gemeente Edenburg in die Suid Vrystaat. Die jong ds Gerdrie van der Merwe van Smithfield doen die verwelkoming van die nuwe leraar in afwesigheid van die ringsvoorsitter wat dit nie kon doen nie.

In sy dienstyd word die kerkgebou se dak vervang en twee doelmatige moederskamer in die kerkgebou ingerig. Die ou pastorie word verkoop en ‘n moderner huis word aangekoop. Ds Jan Berry het sy hand op die pols van elke vertakking in die gemeente en hy en Hannie bedien met liefde die gemeente met sy groot boerderygemeenskap. Met die vloed van 1988 is die grootpad van suid na noord gesluit en dit het uitstekende voetwerk gekos om die duisende gestrande besoekers op Edenburg te voed en slaapplek te gee. Die boere langs die Rietrivier het groot skade gely met die vloed en sy persoonlike besoeke en bemoediging is baie waardeer en die boere het weer moed geskep.

Op die breë kerklike terrein word ds Jan se talente en insigte hoog geag. Hy was lid van die Algemene Sinode se kommissie van die Tydskriftemaatskappy. In die Vrystaat was hy lid van die advieskomitee van die SAUK, dien op die bestuur van die Kinderhuise en dien baie jare lank as voorsitter van Ringskommissies in die Vrystaatse Kerk. In sy dienstyd word die 125jarige feesviering van die NG Gemeente Edenburg gevier en ds Gerdrie van der Merwe skryf ‘n herdenkingsblad om die geleentheid in herinnering te roep. In die tyd beland ds Gerdrie van der Merwe in ‘n egskeiding en ds Jan Berry is die voorsitter van die Ring van Smithfield. Hierdie liefdevolle kerkman se liefde vir die waarheid en die NG Kerk het met wysheid en begrip opgetree en ds Gerdrie en sy twee seuntjies se hande gevat en as vaderfiguur en pastor ons geestelik begelei. Dr Gerdrie skryf: “Ek dank die Here vir iemand soos ds Jan Berry, ‘n man van God wat op ‘n hartbreek en krisistyd in my lewe die verlengstuk was van die Here Jesus se liefde en genesende genade.”

Tot met ds Jan Berry se aanvaarding van sy emeritaat op 27 April 1991, word die Here se koninkryk te Edenburg uitgebou en is hierdie geliefde leraarspaar ‘n baken van liefde en hoop op die klein Suid Vrystaatse dorpie. Hannie was ‘n besondere lewensmaat wat haar man met liefde en sorgsaamheid in elke gemeente bygestaan het.

Na ds Jan en Hannie Berry se aftrede vestig die egpaar hulle in Rant en Dal in Langenhovenpark te Bloemfontein waar hy op die kerkraad dien en met hospitaalbediening in die stad se hospitale help. Later verhuis hulle na ‘n aftreeoord waar Hannie op 7 April 2011 sterf.

Hierdie lieflike twee mense het mekaar aangevul en na Hannie se dood het ‘n deel van ds Jan se lewe opgehou om te bestaan. Toe ds Jan begin swak word, is hy verskuif na die tehuis vir bejaardes op Bultfontein, waar hy naby sy dogter Engela kon wees wat in die distrik gewoon het. Hier is hy na vier jaar oorlede en sy begrafnisdiens word deur ds Johan Smit waargeneem, ‘n kollega uit sy bedieningstyd in Bloemfontein.

‘n Kenmerkende eienskap van ds Jan Berry is die egtheid en opregtheid waarmee hy op voetsoolvlak opgetree het, in goeie en moeilike tye in die gemeente. Hy was ‘n nederige dienskneg van die Here wat sy hand op die pols van elke lewens vertakking in die gemeente gehou het en dit het die nodige vrugte opgelewer. Ons eer hierdie man van God wat die grootste deel van sy bediening die Vrystaatse Kerk met oorgawe gedien het. — Dr Gerdrie van der Merwe, VDM. (Bl. 390)